Search the Business Directory

Home arrow Towns in the Overberg arrow Barrydale arrow Handsentrale Stories
Advertisement

Handsentrale Stories PDF Print E-mail

Barrydale hou storie-aand oor handsentraledae 

Image Barrydalers word teruggevoer tydens 'n "storie-aand" na die dae toe drie minute baie langer as deesdae was. Twee van Barrydale se langasem-sentralebeamptes en vertellers wat elk 39 jaar die telefoonlyne aan die brand gehou het, het die aand met die mense gesels. Dit was die dae toe almal eers die sentrale by die skakelbord moes bel, waarvandaan die persoon na die verlangde nommer deurgeskakel is.

Barrydale se sentrale is eers in l996 finaal geoutimatiseer. Voor dit was goeie outydse telefoonetiket soos "Is die lyn nog besig?", "Beset, jammer", en "Nommer asseblief" nog aan die orde van die dag, en was afluister vir baie lediges 'n aangename tydverdryf.

Mense het kom deel in die stories, grappe, staaltjies en poetse van die sentralepersoneel agter die skakelbordlyne van 'n paar jaar gelede. 

22 April 2001

 

Sentrale beluister diewe, vier loop hulle vas

'n Telefoon-gehoorstuk wat maklik van die mikkie afval, 'n wakker operateur by 'n handsentrale om halfvier in die oggend en 'n koelkop-sakevrou het hier verhinder dat rowers met duisende rande se buit wegkom, en gesorg dat vier mans agter die tralies beland.

Mnr. Barrie Beukes (wat een van die dae ná 34 jaar saam met Barrydale se handsentrale moet plek maak vir outomatisering) was eergister in die vroeë oggendure aan diens toe die telefoonliggie van die plaaslike kafee skielik brand. Hy hoor toe 'n stem wat sê: ``Maak gou dat ons wegkom.'' Hy het dadelik onraad vermoed en die eienares, mev. Daphne Stemmet, by die huis opgebel en ook die Polisie in kennis gestel. Mev. Stemmet en haar man, Manie, was eerste op die toneel en tref toe vyf rowers aan wat besig was om goedere op 'n bakkie te laai. Mev. Stemmet het die sleutel van die bakkie, wat later as gesteel geïdentifiseer is, uitgetrek en mnr. Stemmet het 'n skoot in die lug afgevuur en die rowers beveel om te staan. Die mans het uitmekaargespat en begin om die Stemmets van 'n bult agter die kafee met klippe te gooi.

Omstreeks dieselfde tyd het sers. M. Campher ook op die toneel aangekom en vier mans in hegtenis geneem. 'n Vyfde word nog deur die Polisie gesoek. By nader ondersoek het dit geblyk dat die mans reeds 'n groot deel van die kafee se voorraad op die bakkie gelaai gehad het toe een van hulle die telefoongehoorstuk van die mikkie afgestamp het. Dit het die liggie in die sentrale laat aangaan. Die mans, wat deur 'n ingang agter toegang tot die kafee verkry het, het selfs probeer om 'n hele vrieskas vol vleis en van die meubels te steel. Sers. Campher het ook beslag gelê op 38 Mandrax-tablette wat in hul besit was.

11 Junie 1992

 

Handsentrales gegroet

Twee dorpe in die Klein Karoo het onlangs van hul handsentrale afskeid geneem. Barrydale se handsentrale het die gemeenskap sedert 1945 gedien. Die sentrale het eers ná tien jaar, in 1955, 'n deurlopende nagdiens gekry.

Op die afsluitingsgeselligheid wat Telkom vir die sentrale gereël het, is die operateurs geprys vir hul uitstekende diens. Die laaste vier personeellede, wat almal afgetree het, is mevv. Anna van Lill (31 jaar diens) en Elaine Swart (20 jaar) en mnre. Frans Crafford en Barry Beukes (albei 39 jaar diens).

Op 'n gesellige onthaal op Ladismith wat deur verskeie hooggeplaaste amptenare bygewoon is, is afskeid geneem van die laaste handsentrale in Suid-Kaapland.

19 April 1996


 

 

 
< Prev   Next >