Die Overberg – net oor die berg met stories van toeka tot nou
Overberg landskap toneel
Overberg landskap toneel
Overberg beteken letterlik “Over’t Gebergte” – of in volksmond ‘oor die berg’ en verwys na die streek se ligging vanaf Kaapstad.


Daar is hoofsaaklik twee toegangsroetes tot die Overberg as jy van die Kaap se rigting kom - ry suid-oos op die N2 en steek die Hottentots Hollandsberge via Sir Lowrypas net buite Somerset-Wes oor of vat die allermooiste alternatiewe kusroete via Gordonsbaai (R44) verby Hangklip en Bettysbaai.

Die kusroete sluit onder andere dorpies soos Kleinmond, Hermanus en Gansbaai in tot by die mees suidelikse punt van Afrika – Kaap L’Agulhas.
Dit is egter die kronkelende Sir Lowriespas en die immer gewilde Houw Hoekpas wat jou na die hart van die Overberg lei met sy wuifende koring-en garslande.

Troppe skape en Bloukraanvoëls is ook ’n algemene gesig.
Dit is nie net die mooi strande, bergreekse met interessante geologiese formasies waarmee gespog word nie – die Overberg is ook ryk aan ’n groot verskeidenheid voëlsoorte en welige fynbos. Om nie eers te praat van allerlei snuffelwinkels en padstalle nie. Vat die pad deur valleie met wynplase, vrugteboorde en landskappe van groen, goud en bruin waar jy kan besluit wat die program vir die dag is. Dorpe in die Overberg weerspieël ook hul ryk geskiedenis met sy sendingdorpies, skeepswrakke en ou argitektoniese boustyle wat hulde bring aan stories van toeka tot nou.

Vir die sport- en buitelug entoesias is daar ‘n wye verskeidenheid aktiwiteite: ry vierwiel op grondpaaie dat die stof so staan, kry die ou gholfstokke agter die motorhuis uit, ry perd, leer om te vlieghengel, stap die Walvisroete of waag dit om die see te deel met die Groot Witdoodshaai.

Vir die besoeker wat nie so aktief wil wees nie - geniet ‘n wynroete, besoek ’n kunsgallery, lê op die gras (of sand) by die see en lees ’n boek of ontspan by ons natuurlike warmwaterbron.

Akkommodasie en restaurante is volop in die Overberg wat elke sak sal pas, van selfsorghuisies, jeugherberge en kroeë met wegneemetes tot luukse hotelle en restaurante met tradisionele kookkuns.
En dan het ons nog nie eers oor die ménse van die Overberg gepraat nie – kom ontmoet hulle self.