Greyton - Juweel van die Overberg

03/02/2007 (SA)   Maretha Naudé - Johannesburg    
ImageVat koers deur die Rûensveld op pad na Caledon en daar lê hy, in die voue van die Riviersonderendberge.
Greyton. Juweel van die Overberg, spog die inwoners.
As jy kan, los jou motor by die dorpspoorte, want hier drentel die koeie dikwels lui-lui die hoofstraat af en is ’n donkiekar die inwoners se voorkeur-vervoermiddel. Ouwêrelds. Ongeskonde, byna. Dit lyk kompleet of die tyd vergeet het om sy tande hier in te slaan. Plek-plek ploeg mense nog met osse op laslappies grond en word tuine nou nog uit die breë leivore natgelei.

 


Tussen die struike en blomme in die uitgestrekte tuine bespeur jy ’n knoesterige “bejaarde” wingerdstok of vyeboom. Smal straatjies kronkel tussen reuse-akkerbome deur. Ook die huise lyk byna soos toentertyd: grasdakke, vensterluike, kelders, solders, stoepies.
Al is Greyton amptelik net 150 jaar oud, strek sy geskiedenis baie verder terug. Tot 1791, toe die grond toegeken is aan Marthinus Theunissen, wat sy plaas Weltevreden genoem het. Dié het hy later verkoop aan Hendrik Cloete, destyds ook eienaar van Groot Constantia.
In 1846 koop Herbert Vigne, swaer van die destydse goewerneur van die Kaapkolonie, sir George Grey, die plaas. (Vandaar die dorp se naam.) Dié plaas is in 1854 in 120 kleinhoewes onderverdeel waarop mense van alle rasse, kleure en agtergronde saam gewoon het. Van hul nasate woon nou nog hier.
Die 81-jarige mev. Cathy Nel is Vigne se agter-agterkleinkind. Mev. Joyce Groenewald – wie se seun die enigste vulstasie in die dorp besit – is al 55 jaar hier.
Die dorp se oudste inwoner, die 83-jarige mev. Lenie Fourie, is ook al dekades lank hier.
Die eerste kleinboere het onder meer met avokado’s, man- go’s, druiwe, pere, appels en uie geboer en dit met fontein- en reënwater natgelei. Drinkwater na die dorpie is eers in 1964 aangelê.
Deesdae is die inwoners nog almal ywerige tuiniers en baie van hulle “boer” op klein skaal met groente en vrugte.
Saterdag is markdag en die ganse dorp ruk op om enigiets – van koekies, konfyt, kaas, botter en beskuit tot seep – te kom koop. Heelwat plaaslike kunswerke word uitgestal en verkoop. Die stories en jongste skindernuus is gratis …
ImageMaar al lyk dit of tyd by dié dorpie verbygestap het, het Greyton lankal menige buitelander se aandag getrek. Van oral het hulle gekom, veral Britte en Duitsers, en van Ysland, Swede en Pole. Byna 40% van die sowat 1 200 inwoners is buitelanders – of “swaeltjies”, soos die “ware” Greytonners hulle noem.
Soos Leon Nel, ’n eiendomsagent wat enkele jare gelede die gewoel van Johannesburg verruil het vir die rus en vrede van Greyton, is ook hulle deur die ouwêreldse sjarme en lekker weer bekoor. “In die Europese winter woon hulle hier in ons dorp en net voor die sneeu op die Riviersonderendberge se pieke val, verkas hulle agter die son aan – terug Europa toe,” sê hy.
En hulle gee glo glad nie om om hul sak te skud vir ’n antieke “somerpaleisie” nie. In Greyton is die gemiddelde huisprys al R1,5 miljoen, sê Nel. Hy self woon in ’n huis wat in 1854 deur ’n uieboer gebou is.
Talle kunstenaars het hier kom nesskop. Catherine Paynter, Gert Naudé, Derick van Rensburg en David Kuijers is maar enkele van die internasionaal bekende kunstenaars wat hier woon.
“Hulle is almal eksentriek en duisend staaltjies leef rondom elkeen van hulle. Ek dink dit is veilig om te sê dat elke inwoner van Greyton maar ’n bietjie eksentriek is, met ’n definitiewe hunkering en soeke na die mooie en estetiese,” sê Nel.
Greyton spog met sy eie natuurreservaat van 2 220 ha. Dit is in die 1970’s deur ’n voormalige direkteur van die Kirstenbosch- Botaniese Tuin aangelê. Hier is ’n groot verskeidenheid fynbos, asook plante wat nog nie elders gesien is nie en reeds in 1812 deur die botanis Burchell geïdentifiseer is.
Twee hoogtepunte op die Greyton-kalender is die jaarlikse Winterfees,¬ wat in Julie gehou word, ¬ en die Rosefees in Oktober. Vir die Winterfees word talle kunstenaars – plaaslik en nasionaal – genooi om hier op te tree en met die Rosefees word asemrowende uitstallings gehou van die pragtige rose wat in Greyton gekweek word. Die tuine van die rooskwekers is dan ook oop vir besigtiging.