Stanford word 150

Stanford Building’n Paar van Stanford se buurdorpe - Hermanus en Greyton -het oor die afgelope twee jaar hul 150ste bestaansjaar gevier - 2007 is die jaar vir Stanford.

Dié mooi dorpie op die oewer van die Kleinrivier het ’n vroeë geskiedenis van boerderybedrywighede wat terugdateer na 1729.

Juriaan Appel van die Warmbad by Caledon was die eerste boer wat by Akkedisberg in Kleinrivierskloof ’n weidingspermit ontvang het. Nadat hy met sy veetroppe na elders vertrek het, het verskeie permithouers hom gevolg. In 1801 het die De Villiers familie by Modderrivier, digby vandag se dorp, gevestig. In dieselfde jaar het Christoffel Brand die plaas Kleinrivier Vallei van die regering ontvang.

 

Hy het verskeie jare reeds die weidingplaas gebruik, en die eerste plaashuis in 1785 gebou. By dieselfde huis het Lady Anne Barnard en haar man in 1798 as gaste vertoef. Vandag behoort die huis aan John Davies en Irene Tomlinson wat oor die afgelope agt jaar hard gewerk het om die eens vervalle ou woning tot sy eertydse glorie te restoureer.

Na verskeie ander eienaars het kapt. Robert Stanford die plaas gekoop. Hy het vars vleis, vrugte en groente aan die Kaap gelewer vir verbyvarende skepe, en hy bou ook ’n groot watermeul om koring te maal.

Die Moores kom in sy tyd na die plaas om die meul te bou en te bedryf. Die Moore-familie bly heelwat langer in die latere Stanford.

Robert Stanford laat ook die Carse familie as tuiemakers kom. Ongelukkig is die Stanfords in 1849 erg benadeel tydens die episode met ’n skip wat bandiete na die Kaap vervoer het.

Die koloniste wou nie toelaat dat die bandiete aan die Kaap land nie, en as protesaksie weier hulle voorrade aan die regering of die skip. Na ’n maand was almal aan die Kaap feitlik uitgehonger.

Robert Stanford was nog op halfsoldy van die Britse leër, en om krygswet af te weer, is hy deur die goewerneur verplig om voorrade te lewer. Hy het dadelik begin om voorrade vanaf Stanfordsbaai per see na die Kaap te vervoer.

Die bandieteskip het vertrek, maar die koloniste se wraak het op Stanford losgebars. Sy werksmense is van sy plase weggejaag.

Die ouerpaar se kinders is uit hul skole geban en een kindjie is dood nadat ’n dokter hulp geweier het. Die regering het geweier om te help, en Robert gaan toe na Engeland om hulp te soek.

Hy ontvang daar £5 000 en word tot ridder geslaan.

Hier te lande is die een na die ander van sy plase verkoop. Die laaste was Kleinrivier Vallei plaas wat op ’n veiling aan Philippus de Bruyn verkoop is.

De Bruyn het die plaas dadelik in erwe laat opsny. Die eerste erwe se oordrag is in 1857 geregistreer en die nuwe dorpie kom tot stand.

’n Legende lui dat Stanford De Bruyn £50 betaal het om die dorp na hom te noem.

Stanford het geleidelik gegroei en was eens ’n groter dorp as Hermanuspietersfontein, soos Hermanus toe bekend was.

Teen 1950 het Stanford 820 inwoners gehad en in 1995, 1 800. In 2000 was daar 3 000 inwoners.

Die moderner dinge het geleidelik gekom — in 1961 is die dorp van elektrisiteit voorsien en die teerpad na Hermanus gebou. Die Anglikaanse kerk is reeds in 1868 gebou en in 1926 is daar ook ’n NG Kerk gebou.

Die munisipaliteit het in 1919 tot stand gekom met Halley Moore as eerste burgemeester.

Die Oulap-skool was die eerste op die dorp - kinders moes ’n pennie (oulap) per dag betaal om die skool by te woon. Hulle het die pennie in ’n ou lap toegedraai, vandaar die benaming oulap.

Daaruit het die huidige skool gegroei wat vir jare ’n sekondêre skool was en in 1972 na die Laerskool Okkie Smuts hernoem word. Die Bron Laerskool het sy oorsprong by die Anglikaanse kapel en skooltjie van 1868.

Op die geskiedkundige markplein het Nagmaal-waens in vroeër jare saamgetrek. Deesdae vind die maandelikse boeremark daar plaas wat in gewildheid toeneem.

Die dorp het verskeie organisasies wat omgewingsbewaring en dorpsontwikkeling bevorder. Nuwe intrekkers en ontwikkelings het Stanford oor die afgelope paar jaar ’n redelike sterk karakterverandering laat ondergaan.

Maar dit bly nog die rustige dorp op die Kleinrivieroewer en ’n gesogte aftree- of woonplek vir diegene wat uit die woelige stede vlug.