Historiese Anglikaanse kerkgebou brand af

Villiersdorp DamStories van die verlede - Uittreksel uit Die Burger

’n Groot kruis en twee koperkandelare is ál wat behoue gebly het in die historiese Anglikaanse kerk op dié dorp wat Sondag in ’n vernietigende brand verwoes is.
Inwoners het steeds na die kerkterrein van die St. Augustinus-kerk gestroom om na die skade te kom kyk.

Eerw. David Titus, leraar by dié kerk, is op daardie Sondag om 12:45 gebel waar hy op Botrivier woon. Hy het dadelik na die toneel gejaag. “Die kerk was in ligte laaie. Alles is vernietig. Ook die twee orrels. Toe ek daar van Grabouw se kant gery kom, het ek die brand van 15km ver gesien,” het Titus die inferno beskryf.

Gister het uitgebrande Bybels en sangboeke tussen die verkoolde hout gestrooi gelê. ’n Hemelhoë sipresboom buite het tot hoog swart gebrand. Die gesmelte vensters van die kerkgebou getuig van die verskroeiende hitte van die vlamme.

Een van die mense wat na die skade kom kyk het, mnr. Karl Schulz, het gesê die kerkie was dié historiese gebou op Villiersdorp en ’n baken van die dorp. “Almal wou in die kerkie trou omdat dit so mooi was,” het Schulz gesê.

Volgens Schulz het die kerkgebou gegloei soos ’n oond terwyl talle mense magteloos moes toekyk terwyl die brand voortwoed. Niemand is in die brand beseer nie.
“Ons sal seker nooit weer ons geboutjie terugkry nie,” het me. Esmé Vos, wat naby die kerk woon, gesê toe sy gister daar verby¬geloop het.

Mev. Johie Visser, wat al per geleentheid op die ou traporrel gespeel het, het gesê dit was ’n ervaring om op die orrel musiek te maak. “Nou is alles uitgebrand. Dis ’n groot skade vir Villiersdorp,” het Visser gesê.

Mnr. Ian Crabtree, wat reeds wyd navorsing gedoen het oor die geskiedenis van Villiersdorp, het gesê die kerk is in 1859 voltooi en die orreltjie moes ’n ruk daarna gebou gewees het.

Al die oorspronklike eikehoutbalke, -deure en -banke is vernietig. "Dis so ’n geskiedkundige gebou vir die hele Overberg,” het Crabtree gesê. "Van die goed wat vernietig is, is onvervangbaar. Dis jammer, want dis regtig ’n baken wat verlore is.” Die kerk is ook in 1933 herbou toe dit gedeeltelik in ’n brand verwoes is.

In ’n vreemde kinkel het iemand gister ’n brandende sigaret in die sleutelgat gedruk van Crabtree se huis, Oude Radyn, wat in 1844 gebou is kort nadat die dorp se erwe uitgelê is. Dit is die naasoudste huis op die dorp.